ek maak jou my standbeeld
vroegaand met my marmer vingers
n madonna met n mooi mond
vashouheupe en lang lang bene
waarvan die uitgekapte vorm
so maklik om my kan vou
maar met elke naweek wat jy weg is
maak ek jou my afgeblaasde opblaaspop
in die verste rakke van my agterkamer
n beeld wat gebêre kan word
met opgevoude weglê arms
en n maandagglimlag wat maklik oopsprei
ek maak jou beeld my skildery
op die voorstoep van my verwagtinge
n skuinshangende picasso van passie
met stil bruin oë wat dartelend
die kubisme in my hart probeer vastrek
n mona lisa wat dalk maklik lag
ek maak jou my standbeeld
in die ruim ooptes van ons tussenspel
n figuur in my fantasie
met n soet asem en mooi stem
en n brose betrokkenheid wat dalk
te maklik onder die beitel bars
ek maak jou my standbeeld
onbereikbaar hoog op n voetstuk
op 'n veilige afstand van jou lyf
want klei wat te vinnig klip word
is die uitdagende beeldhouer se juk:
soos die verbode vrugte wat hy
te maklik wil pluk
vir louise