om te reis
soos enige verslaafde
wil ek die wêreld
dwarskruis deur reis
die blou alpe met koue voete beklou
die amazone natvoet vaar
breyten in parys besoek
en die akropolis viervoet vaspen
acapulco
die pad, egter, daarheen
is kronkelver en dalk helsteil ook
dondergode bewaak die wolke
die see is swart en diep
maar, soos vir enige verslaafde,
die uitdaging is 'n metador
ek haas droomsnel oor warm woestyne
- likkewane skuif kalmkop
skubberige sterte onder die geel sand in
die vlaktes versprei weerskante
vinnig tot in die verte -
by die middellandse see
steek my hoewe vierkant vas:
kan ek hierdie kontinent
so in die somer verlaat
sonder woord of wel-sê
as my langste reise
nog altyd eintlik
in jou lyf lê
vir nanette
lente
lank terug